Friday 10 October 2014

Is dit Bybels om 'die bloed' oor ons, ons gesinne of besittings, te pleit?

My huis/motor/besittings is onder die bloed. Dit sal niks oorkom nie. Ek pleit die bloed oor my en my geliefdes om ons te beskerm. As Satan my aanval pleit ek die bloed oor my. Die bloed , die bloed , die bloed!
Dit word in soveel Pinkster en Charismatiese Kerke geleer as waarheid, en selfs in party sg gereformeerde kerke. Waar is die bybelse gronde daarvoor? Die skrifgedeelte wat gewoonlik aangehaal word is die verhaal van die uittog uit Egipte, waar die lamsbloed aan die deurkosyne geverf moes word sodat die doodsengel die huis sou verbyloop. Dit was egter lamsbloed, dierebloed, wat as tydelike 'beskerming' teen die dood gebruik was. Nie as permanente verskansing nie. Dit was ook maar net 'n voorteken van die verlossing wat sou kom, waar ons sondes PERMANENT weggewas sou word deur die bloed van die ware LAM van God. Wanneer word daar weer melding gemaak van bloed behalwe in die offersisteem van die OT tempel? Ons lees die volgende in Mat_26:28: Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.
Waarvoor word die bloed gestort? Vir die vergifnis van sondes. Waarteen word ons dus beskerm? Diefstal? Aaanranding? Moord? Aanvalle van Satan? Siekte? NEE!!
Ons word beskerm teen die toorn van God! Ons word verlos van die loon van die sonde, nl die ewige dood! Die bloed is EENMAAL gestort vir almal wat gered word. Die bloed van Christus is nie 'n magiese middel wat ons vir allerhande beskerminge kan aanwend nie, dis afgodery! Christus is ons beskerming!
2Sa_22:2 En hy het gesê: Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder
Psa_18:3 Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.
(Ps 31:4; 62:3; 62:7; 71:3)
Ons word by wedergeboorte verseël met die Heilige Gees, wat in ons kom inwoon.
2Co_1:22 wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.
Eph_1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,
Eph_4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.
DIT is ons waarborg van God se beskerming, nie die pleit van Sy bloed oor ons nie? Waarom moet ons die bloed oor ons "pleit"? Ons is gered, wedergebore, skoongewas en verseël! Wat meer kan ons vra?